MRB Sakekamer wen groot
24/11/19
By:
Verslagspan
Lede van die Moorreesburg Sakekamer het op 7 en 8 November deelgeneem aan die jaarlikse AHI-gala-aand en kongres in Oudtshoorn, waar hulle harde werk en toewyding aan die plaaslike ekonomie met 'n gesogte toekenning beloon is.
Lede van die Moorreesburg Sakekamer het op 7 en 8 November deelgeneem aan die jaarlikse AHI-gala-aand en kongres in Oudtshoorn, waar hulle harde werk en toewyding aan die plaaslike ekonomie met 'n gesogte toekenning beloon is.
Op die gala-aand, wat Donderdagaand 7 November plaasgevind het, het die prestasies van ons gemeenskap behoorlik uitgestaan.
Carien Hugo-Waring, eienaar van Moorrees, is aangewys as die Gasvryheidbesigheid van die Jaar. Haar onderneming, wat bekend is vir hul plaaslike suurdeegbrood en vars bestanddele, het met trots ander besighede in die Wes-Kaap uitgestof.
Hugo-Waring se toewyding aan egte plaaslike produkte het Moorrees bekend gemaak as ‘n ware juweel in die dorp.
Plaaslike inwoners en besoekers word uitgenooi om Moorrees se webwerf te besoek by moorrees.co.za en hul heerlike produkte te ervaar.
Later die aand is die Moorreesburg Sakekamer vereer met die toekenning as die Opkomende Sakekamer van die Jaar.
Die toekenning is oorhandig aan die voorsitter, Fritz Els, deur Albert Geldenhuys van die AHI. In sy toespraak het Els die belangrikheid van vennootskappe beklemtoon vir die sukses van enige sakekamer.
Hy het ook sy opregte dank uitgespreek aan Cobus van der Merwe, direkteur van die Moorreesburg Sakekamer, Carien Hugo-Waring, en Corné Koch, ‘n assosiaat van die sakekamer, wat hom tydens die funksie bygestaan het.
Op Vrydag, 8 November, het die Moorreesburg-delegasie die AHI-kongres bygewoon, waar die belangrike rol van klein sake-ondernemings in die Suid-Afrikaanse ekonomie bespreek is.
Paneelbesprekings en gassprekers het die klem geplaas op die behoefte aan groter ondersteuning vir kleinsake, en die hoop uitgespreek dat die regering, saam met ander belanghebbendes, meer inisiatiewe sal skep om hierdie sektor te versterk.
Hierdie toekenning as Beste Opkomende Sakekamer bevestig Moorreesburg se groeiende impak en die visie van sy leiers om ekonomiese geleenthede vir die gemeenskap te skep.
Latest News