Poësie en kuns skitter by Verse in die Vallei
24/09/09
By:
McKayla Goliath
Sam en Anton se Co-Op was die afgelope naweek die toneel van 'n inspirerende poësie-aand, Verse in die Vallei, wat maandeliks plaasvind.

Sam en Anton se Co-Op was die afgelope naweek die toneel van 'n inspirerende poësie-aand, Verse in die Vallei, wat maandeliks plaasvind.
Die aand se gasheer en mede-skrywer, Bradley Arendse, het 'n boeiende gesprek gevoer met die gasdigter Elmarie Stofberg oor haar debuutbundel, “Digby”.
Elmarie, oorspronklik van Worcester en nou woonagtig in Rawsonville, het vertel hoe sy tydens die inperking van 2020 begin stap het en inspirasie gevind het in die dinge wat sy gesien het. Hierdie ervarings het sy in gedigte en skilderye vasgevang.
Sy het verduidelik dat, hoewel beide kunsvorme na aan haar hart lê, woordkuns haar grootste liefde is. “Visuele kuns is my tweede medium, daarom het ek tale gaan studeer,” het sy gesê. Elke gedig in haar bundel word vergesel van 'n skildery wat die woorde tot lewe bring. “Digby” is beskikbaar vir R250 en sluit 'n kleiner weergawe van 'n skildery in.
Na Elmarie 'n paar van haar gedigte voorgelees het, was die vloer oop vir ander plaaslike kunstenaars.
Agt talentvolle individue het opgetree, wat die aand gevul het met talent en pret. Caren, die organiseerder van die Poetry Jam, het ook 'n stuk voorgelees en die gehoor met wysheid agtergelaat: “Tyd is nie ons sin nie. Jy moet doen wat jy moet doen.”
Verse in die Vallei vind elke laaste Sondag van die maand plaas in Riebeek-Kasteel.
Almal is welkom om agteroor te sit met 'n drankie of die mikrofoon te vat en hul kuns te deel.
Latest News